Die ding van 'n vriendin is dat dit nie iets is wat mens kan soek as jy dit verloor het nie, want díe wat jy kry as jy soek, soek gewoonlik by jou ook iets. As daar nou een ding is wat ek al geleer het van vriendskappe, is dit dat daardie spesiale vriende, daardie wat hulle na verwys as hartsvriende, díe is wat nie méér van jou verwag as wat jy het om te gee nie. So 'n vriendin is nie swaar om saam te dra nie, en verander nie van kleur as jy 'n nuwe TV of kar koop nie. Sy dink nie snaaks as jy jou kinders slaan omdat hulle stout is en dan op haar skouer gaan huil omdat dít nie die ma is wat jy wil wees nie. Sy bestuur in die Kaap, want alhoewel jy 'n Kapenaar is, ry jy steeds verkeerd. Sy verstaan as jy nie weet waarin om te glo nie en troos dat mens net moet poog om 'n goeie lewe te lei. Sy sluit saam met jou aan by die Rotary en bak, wat gevoel het na 1000 meringues, alhoewel nie een van ons skitter in die kombuis nie, want ons wil ook 'n verskil maak en 'n bydrae tot die gemeenskap lewer. Sy gaan saam na die "Hair Academy" sodat 'n proef haar-student op ons koppe kan oefen en ons lag en ons huil, want ons lyk belaglik. Ons kry 'n personal trainer, want ons dink ons is vet en ek haat dit, want dit maak my lyf seer en sy gee my Voltarens, want Voltarens help vir alle seer! Ons luister na Lucy Jordan en wonder oor haar en oor haar sportskar in Parys en besluit, ons is allright, die Tinman en die Strooiman - die een die hart, die ander die brein.
En dan, skielik, is sy net weg...! Weg na 'n ander land.
Dan kom die stilte, die afwesigheid, die ongelooflike daaglikse gemis en 'n eensame agtergeblewendheid... (Verstaan sommer nou Apartheid ook beter!)
Maria sê in die Uurwerk Kantel, dat dit makliker is om te gaan as om te bly, maar ek sê nou: dit is sommer net plein onuithoudbaar!
Net sodra mens dink, nou is ek oor die ergste en darem al sekerlik klaar gehuil, kom daar weer 'n donnerse Polo verby gery en moet jy weer op jou eie dorp toe ry en verby die koffiewinkels stap, omdat jy nie alleen by 'n tafeltjie wil gaan sit en maak asof jy 'n grand foon het nie! Jy behoort nie meer aan die Rotary nie, want jy wil nie alleen gaan nie. Jy gaan nie meer Kaap toe nie, want jy kan nie op jou eie daar ry nie. Jy speel nou muurbal, want jy het eintlik nooit van die gym gehou nie en jy wonder of Voltaren sal help vir hartseer?
Toe, na 8 maande gaan stap ek, my seun en my hond langs die see wat voor hul huis verby loop en daar staan dit: die leë boekrak - en skielik is die gemis van boeke oor en weer leen, die diep besprekings oor "The New Earth" en wat "The Shack" aan my gedoen het, weer van voor af daar.
En ek huil oor my vriendin wat weg is en oor die ou stupid leë boekrak...